|
|
Geboortedatum: 17 Oktober
Prestasies tot dusver:
Vanjaar was haar tweede Skouspel in Sun City. Sy is ook in 2010 weer een van die kunstenaars vir die Kaapse Skouspel. Vonk toekennings: Beste kontemporere Vroulike album vir 2009 Een van die kunstenaars wat die no.4 van die Huisgenoot Tempo wenliedjies gesing het, genaamd "Dink aan my"
Treffers: Napoleon ( geskryf deur Steve Hofmeyr) Storm in my hart Dink aan my
Haar eerst cd " Diamant" is so te se op goud status.
Aanhaling deur Chris Chameleon: (Beeld koerant in Oktober 2009) ……."My ontdekking van hierdie Skouspel is Andriëtte Norman. O jittetjie, help tog, ek is verlief. Die vrou is beeldskoon en straal ’n lig uit wat my ganse wese bekoor. Boonop het sy ’n stem wat soos ’n handgemaakte Cyril Johnson-klok lui en alles binne hoorafstand vul en die siel soos ’n stemvurk laat resoneer. Dis met opwinding dat ek na die volgende twintig jaar se Afrikaanse musiek met hierdie stem uitsien. Liedjieskrywers, ontwaak! Skryf vir haar ’n treffer, ons sal almal beter daaraan toe wees"…….. BIOGRAFIE: Sy het ongetwyfeld een van die sterkste vrouestemme in die land en met haar nuwe album, Dink Aan My, bewys Andriëtte Norman weer haar ongelooflike talent as sanger en vertolker. “Hierdie is die album wat ek nog altyd wou gemaak het,” sê sy. “Elke liedjie het ’n kwaliteit wat iets van my sê. Daar is regtig nie een liedjie wat ek nie van hou nie en ek wil elke liewe een vir mense sing. Dit is ’n album wat mens van begin tot einde kan deurluister.” Meeste van die liedjies op die album is oorspronklik. Die jong liedjieskrywer Johan Oberholzer het vier liedjies – Kom Ek Wys Jou Hoe Liefde Voel, Saam Met Jou, Kom Haal en Voor Jy Gaan Slaap - geskryf.
“Johan is baie talentvol en ons het al vier die liedjies opgeneem wat hy vir ons gegee het. Ek glo Kom Ek Wys Jou Hoe Liefde Voel gaan ’n groot treffer wees,” sê Andriëtte. “Ek hou ook baie van Wens Jy Was Nou Hier wat André Swiegers geskryf het. Die liedjie sou op my vorige album gewees het, maar ons het besluit om dit vir my tweede album te hou.” Dink Aan My is ’n volledige ateljee-album met van die land se beste musikante wat Andriëtte begelei het. Die regisseur was Byron Kuns. “Ek het ook Songbird van Eva Cassidy opgeneem en ’n oorspronklike Engelse liedjie, Stolen Moments, wat ek glo mense baie van gaan hou. Die Viva medley, wat die laaste snit op die album is, was my idee en daar het ons vier groot Suid-Afrikaanse treffers – Dance Sum More, Special Star, Vuli Ndlela en Jabulani – geneem en dit ’n regte Afrika-gevoel gegee met alles van ’n swart koor tot ’n penniefluitjie! Dit is beslis een van my persoonlike gunstelinge op die album.”
Voor Jy Gaan Slaap is ’n duet tussen Andriëtte en die kykNET Idols-wenner Dewald Louw. “Die woorde van die liedjie is baie spesiaal en pas veral by ’n kunstenaar se lewe. Dit gaan oor hoe moeilik dit is om in ’n verhouding te wees as een van die twee partye baie moet reis.” Die titelsnit van die album, Dink Aan My, was ’n finalis in Huisgenoot se Tempo-liedjieskryfkompetisie. “Ek het dadelik van die liedjie gehou en is baie bly dit het by my uitgekom! Dit is ’n bonus dat dit op my album is en ek glo dit gaan ’n treffer wees.” Nog ’n seker treffer is Dum Tekk Tekk. “Die liedjie was oorspronlik in Engels en klink soos iets wat mens Bollywood-danse op kan doen! Dit is in Afrikaans vertaal, maar het steeds die prettige ritme en baie lekker melodie.”
Haar droom is dat mense so positief oor die album sal voel soos sy self daaroor voel. “Ek het die eerste keer toe ek dit geluister het, so ’n positiewe gevoel gekry. Ek glo dit gaan werk en dat die album goud gaan gaan. Ek hoop regtig mense hou soveel daarvan soos ek daarvan hou.”
|
|